Afrikaans BIO

 

’N NUWE STEM

Die bekende model en akteur Benedikt Sebastian stel sy debuut-CD vry – na maande van opnames in Kaapstad onder die legendariese produksieleier en komponis Gabi le Roux se bekwame hand.

Liedjies van die nuwe album soos Harmonie, Los uit my taal, Jy Weet Ek Weet en Vlieg het reeds op verskeie plaaslike radiostasies gespeel soos Five Fm, MFM, RSG, UCT, Rippel, Bok Radio, Helderberg, Bosveld Sterio, East Coast Radio, Afrikaans Alternative etc. voor die albumvrystelling al.

Wanted Online, beskryf dit as ‘‘n skitterende kaleidoskoop van Afrikaanse elektro-pop’. Taalgenoot skryf ‘Benedikt Sebastian ekspirimenteer met elektropopklanke met ‘n skeutjie dubstep ingeroer. Die liedjies is persoonlik en die klem val onder andere op patriotisme en sake soos die Afrikaanse
taalkwessie. Veral Los Uit My Taal word geposisioneer as ‘n sort protesliedjie. Luisterbare lirieke én dansbare ritmes word gekombineer om die perfekte nuwe partytjieklank te skep.’

Jy Weet Ek Weet bevat 12 liedjies. Dit is eerlike liedjies met ’n goeie balans van diep temas, maar nie só filosofies dat dit dalk mense kan vervreem nie. Elke liedjie vertel ’n storie, op sy manier. Die musiek is nie genre-spesifiek nie; die idee was juis om dit nie maklik vaspenbaar te maak nie.

Die persoonlike aard van die liedjies op Jy Weet Ek Weet is deels daaraan te danke dat hy die medeskrywer was; daar is aspekte van hom daarin en jy kan die waarheid hóór. Dit bevat ook ’n groot reeks invloede, soos blyk uit die diverse temas in liedjies soos “En Ons Dans”, “Vlieg” en “Donker Engel”. En elkeen het die soort aanslag wat jy nié reeds om elke hoek en draai gehoor het nie.

Benedikt het ’n visuele kommunikasie-agtergrond en werk ook in hierdie bedryf. Hy is pal aan die rondspeel met verskillende aspekte van kreatiwiteit, van dig tot stories skryf, grafiese ontwerp en teken – met toekennings vir sy moeite! Met die bekende digteres Engemi Ferreira as moeder, vloei die literêre bloed dik in sy are.

Gabi le Roux, met wie die sanger ’n baie sterk medeskeppende benadering gevolg het, se opgewondenheid oor die projek is duidelik: “Afrikanerdom is warm en sexy, maar ons musiek dra partykeer swaar aan die kettings van outydse sokkie-liedjiedom … Ons bring moderne dans-beats met tergende lirieke wat in jou gedagtes sal vassteek. Ons is Afrikaans-internasionaal!”

Gabi het reeds met “Nkalakatha”, Mandoza se bekendste liedjie, gesorg vir die grootste “crossover”-treffer ooit in Suid-Afrikaanse musiek. Voeg daarby talle toekennings en ’n tamaai hoeveelheid werk saam met die meeste van die land se grootste musiekname, en jy het ’n vervaardiger wat weet hoe om die heel beste uit ’n belangrike jong sanger te haal.

Benedikt sê: “Elke song bestaan uit ’n kombinasie van verskillende faktore en ek sou nie een van hulle kon laat vrystel as daar nie ’n baie definitiewe deel van my daarin was nie.” Luisteraars sal gou besef hulle het nie bloot hier met liedjies te make nie; daar is ’n mens binne-in.

Benedikt Sebastian is ‘n sanger met ‘n unieke klank en benadering. ‘n Liedjieskrywer en sanger wat daarvan hou om te dink en vir daardie rede iets het om te sê. Hierdie baie oorspronklikheid verdien om gehoor te word, en vir ‘n lang tyd te kom.

 

 
 
previous next
X